Rendier se kraal

Monday, June 26, 2006

Stille waters...


Dis Saterdagoggend. Die lug is blou met 'n byt, net soos daar op die eiland. Vanmiddag 15:00 draf die Bokke op Nuweland uit om die Franse aan te pak. Die wroeging is sterk; rugby - met die kans op teleurstelling, of hengel - odds is dieselfde.

Skuins na 12:00 pak ons af langs die hangbrug in die mooiste Stellenbosch. Die dorp is still. Die water kabbel opgewonde oor die klippe. Dis skoon; ons gaan in.

Ons bestaan uit Rendier, Renier "die enigste" Karg en Billie "the Kid" de Jongh. Billie is 'n hengelaar van formaat. Dis nie aldag dat jy 'n man ontmoet wat kan hengel en mooi fotos neem nie. "The Kid" knoop al sy eie vlieë en het al 'n kompetisie of twee gewen. Hy heet daar uit die Noorde; Phalaborwa trajek.

Die eerste treë in die Eersterivier is koud - koud en versigtig, want die klippe is glad! Al soekend sukkel ons die rivier op. By elke poel en stroomversnelling mik ons 'n paar vlieë die stroom op. Die strike indicator sak so dan en wan weg, maar meestal as gevolg van die stroomversnellings.

Die koue voel ek nie meer nie, net die afwagting van die forrel wat onder 'n tak of agter 'n klip lê en wag vir 'n happie.

Na 3 ure van waterslaan en 'n menigte bome, kom ons by die laaste poel. Laaste poel, want my voete is dood en ons het 'n 15:00 afspraak by Jonkershoek. "The Kid" skiet na 'n stroomversnelling. Die vliegie dryf af teen die klippe en deur 'n gladde poel, onder 'n tak deur. Die oranje indicator verdwyn skielik. Hy slaan vas, maar daar's niks. Weer skiet hy stroom-op, nog twee, of drie keer. Die nymph dryf weereens oor die versnelling, deur die poel onder die takke deur. Die indicator sak weg; hy strike en 'n woeste gespartel vind plaas. Hy hengel met ligte gerei en al is die vis klein, speel hy lekker. Die water raak stil en die klein reënboog forrel lê in sy hand. Vinnig word die hoek losgemaak en die forrel teruggeplaas in die water.

3 ure se swoeg vir 1 minuut van plesier - priceless.

Billie, dankie vir al die raad en knope. Renier, volgende keer vang ons hulle ook!

Monday, June 19, 2006

Die nuwe kraal


Eersdaags is dit ons nuwe kraal. Na baie gestoei om ons tentpenne uit te pluk, is die wiele aan die rol. Kom loer gerus in...

Tuesday, June 13, 2006

Gierigheid en leuenaars

One down and one to go. Ons huis is gisteraand verkoop, maar nie sonder 'n goeie dosis drama, soos wat dit die Rendier-clan betaam, nie.

Dis Sondagaand 21:00. Agent A kom na ons toe met 'n aanbod. Ons het tot Maandag 16:00 om dit te aanvaar. Ek en Mev Rendier slaap oor die saak en die volgende oggend maak ons 'n plan. Ons wil Rn in ons sakke steek, so indien Agent A bereid is om haar dienste, wat in totaal 2 dae gestrek het, teen 'n billike komissie te doen, teken ons net daar en dan, of sy moet die Kopers kry om hulle aanbod te verhoog sodat ons Rn in ons sakke kan sit. Agent A weier om vir "so min" te werk en forseer die Kopers om hulle aanbod te verhoog.

Intussen skakel Agent B my. Haar kliënt wil 'n aanbod insit. Hoe kan ek haar dit weier? Teen 15:30 is die aanbod op die tafel en dit besorg ons Rn + x in die sak. Teen 17:00 skakel ek Agent A om haar mee te deel dat 'n hoër aanbod op die tafel is en ons het tot 20:00 om dit te aanvaar. Groot boehaai! Sy's in trane, maar as mens geldgierig is moet jy suffer! Nie net het sy ons te na gekom nie, maar ook die kopers, so sy het net haarself te blameer.

Vanoggend is dit my voorreg om die ander agente te skakel en mee te deel dat die huis verkoop is. Agent C, wie nog altyd effe nors en ongeskik was, wil dadelik weet wie dit gekoop het. Die Kopers was nie wie sy verwag het dit sou wees nie. Sy beweer dat dit haar kliënt is en nou wil sy komissie opeis! Absurd! Die vrou het voor my siel nog niks gedoen om die huis te probeer verkoop nie. In teendeel, sy het die Koper se man, wie ons nou nog nie ontmoet het nie, op 'n dag die huis gewys toe die huis oorkant die pad nie beskikbaar was nie..."net om hom te wys hoe lyk die afwerkings, want al die huise lyk mos dieselfde" - TWAK!

So hier sit ons nou in 'n twis gewikkel tussen die gieriges en die leunaars.

Sol justitiae illustra nos...mag julle blase brand vir julle dade!





Friday, June 02, 2006

Span die osse, ons trek



Na 9 maande in die Paradys, het Familie-Rendier besluit dis tyd om groener en minder winderige weivelde, op te soek. Eintlik is ons heel gelukkig in ons huidige kraal, maar sien, as Mev Rendier die heining wil verf, is die Rendier nie te opgewonde daaroor nie. Ons vrugbare stukkie grond was nog net goed vir ons en het ons goed beskerm teen die elemente. Die tyd het egter aangebreek dat ons nes skrop vir die klein ding wat oppad is. Ja, die boeke het my gewaarsku dat my vrou skielik baie veranderinge sal wil maak, maar so groot het ek nie verwag nie!

Dis Sondag, ons is verveeld en ons besluit om huise te gaan kyk in die nabuurige kraal van Welgedacht. Net een huis pas binne on begroting, maar dis sekerlik die onpraktieste kraal wat ek nog aanskou het...of so het ek gedink, totdat ek Dinsdagaand nog 'n erger kraal aanskou het! Oppad terug van die teleurstellende kraal, sien ons die perfekte kraal. Perfek in die sin dat dit nie kolosaal is nie, maar ook nie kleiner as wat ons nou het nie; nie onprakties en in verdiepings nie, maar alles op een vlak; naby genoeg, maar tog vêr genoeg. met 'n groot gesukkel oorreed ons die agent om ons Woensdagoggend 08:30 daar te ontmoet. Ons is hard op die arme mense! Die huis is ongelooflik, net wat ons beide wou hê. 'n Perfekte samesmelting van warmte, baie sonlig, oop ruimtes en GEEN WIND!

Met die hulp van my swaer, wat immers 'n paar weke terug deur dieselfde proses was, het ons die agente bymekaar gekry, kontrak geteken en teen 16:30 is ons die trotse eienaars van 'n nuwe kraal.

So, indien iemand daar buite 'n kraal in die Paradys soek wat nog skaars ingelyf is, kontak my gerus.

Groete uit die kraal