Rendier se kraal

Friday, June 02, 2006

Span die osse, ons trek



Na 9 maande in die Paradys, het Familie-Rendier besluit dis tyd om groener en minder winderige weivelde, op te soek. Eintlik is ons heel gelukkig in ons huidige kraal, maar sien, as Mev Rendier die heining wil verf, is die Rendier nie te opgewonde daaroor nie. Ons vrugbare stukkie grond was nog net goed vir ons en het ons goed beskerm teen die elemente. Die tyd het egter aangebreek dat ons nes skrop vir die klein ding wat oppad is. Ja, die boeke het my gewaarsku dat my vrou skielik baie veranderinge sal wil maak, maar so groot het ek nie verwag nie!

Dis Sondag, ons is verveeld en ons besluit om huise te gaan kyk in die nabuurige kraal van Welgedacht. Net een huis pas binne on begroting, maar dis sekerlik die onpraktieste kraal wat ek nog aanskou het...of so het ek gedink, totdat ek Dinsdagaand nog 'n erger kraal aanskou het! Oppad terug van die teleurstellende kraal, sien ons die perfekte kraal. Perfek in die sin dat dit nie kolosaal is nie, maar ook nie kleiner as wat ons nou het nie; nie onprakties en in verdiepings nie, maar alles op een vlak; naby genoeg, maar tog vêr genoeg. met 'n groot gesukkel oorreed ons die agent om ons Woensdagoggend 08:30 daar te ontmoet. Ons is hard op die arme mense! Die huis is ongelooflik, net wat ons beide wou hê. 'n Perfekte samesmelting van warmte, baie sonlig, oop ruimtes en GEEN WIND!

Met die hulp van my swaer, wat immers 'n paar weke terug deur dieselfde proses was, het ons die agente bymekaar gekry, kontrak geteken en teen 16:30 is ons die trotse eienaars van 'n nuwe kraal.

So, indien iemand daar buite 'n kraal in die Paradys soek wat nog skaars ingelyf is, kontak my gerus.

Groete uit die kraal

2 Comments:

At 11:50 PM, Blogger renklem said...

Baie geluk Rendier en Netta! Bly julle weer net 3 huise van JPT af? Sterkte met die huis verkoop.

 
At 12:26 PM, Blogger Rendier said...

Amper...ek sal oor die somer by hom uitspan, want hy't mos 'n watergat. Ons plekkie is so 3 strate van hom af, maar daar is geen kortpaaie nie, nie tensy ek deur my nuwe bure se tuin leopard crawl nie

 

Post a Comment

<< Home