Rendier se kraal

Friday, February 09, 2007

'n Nuwe tuiste

Nee ons trek nie weer nie, maar my blog het verhuis na ‘n lieflike nuwe woning op WordPress.

http://rendier.wordpress.com/

Hou die nuwe spasie dop vir allerhande nuus en gebeure in die Rendier se Kraal.

Tuesday, January 30, 2007

My 2 meisiekinders


Net 'n vinnige fototjie van die 2 girls in my lewe. Nina het Sondag 'n swembad gekry en geniet dit vreeslik baie. Kan nie glo dat sy môre al 13 weke oud is nie.

Friday, January 19, 2007

Liefde is...'n stille rivierstroom



Nog nooit het die liedjie vir my meer betekenis gehad. 17de Desember 2006 het ek my eerste tree gegee in die die stroomhengel arena. Ek en neef Renier het die Smalblaarrivier, ook bekend as die Molenaars, aangepak en die eerste ekskursie was 'n belewenis. Van die vroegoggend (05:30) vertrek, die stap langs die N1 tot by die beginpunt van die beat en die eerste gooi met my nuwe stokkie.

Waar het dit alles begin?

Vlieghengel het my die eerste keer in 1999 gebyt. Ek het destyds by Sportsmans Warehouse vir my 'n goedkoop (R250) stokkie aangeskaf en gaan bass vang op Dirkie Morkel se plaas (Bellevue) op die Bottelarypad. My eerste vis was 'n klein grootbekbaars (Largemouth bass). Vandaar het ek 'n paar gooie gemaak in die boonste dam by Bellville Gholfbaan en 'n paar bluegill sunfish en bass uitgetrek. Ek en Netta was self op 'n keer na 'n forelplaas in die Du Toit's kloof pas, nie die een by die lodge nie, en daar het ek my eerste forrel gevang.

Die stok is saam Londen toe en na 'n jaar van niks doen nie, het ek hom ingelyf in Syon Park, sonder sukses. 'n Trippie op Lake Districts (Estwaithe) toe het my laat besef dat my stokkie nie opgewasse is vir die spel nie en ek het vir my lekker Daiwa Profly 7wt aangeskaf. My eerste poging met die nuwe stok was 'n sukses en baie visse is tussen my Chris en Johann om die lewe gebring('n reël by Albury Estates).

Terug in SA het die vlieghengel bietjie gerus. My buddies bly mos vêr, maar toe kom neef Renier tot my redding. Die gogga het hom ook gebyt en daar sak ons toe af na Piet Fischer se plaas op die Bottelarypad om forel te soek. Die vis was daar, maar hulle wou net nie byt nie. Een baars is later met groot vernuf gevang.

'n Maand of wat later en ons 2 is saam met Billy de Jongh die Eersterivier op. Na die uitstappie was riviere my volgende uitdaging. Ek en Renier het nog 'n paar keer by Jonkershoek gaan inloer en 'n paar forelle gevang en weer vrygelaat.

Einde Oktober het buddy Chris ons almal bederf vir sy 30-ste met 'n naweek van hengel by Three Streams Trout farm in Franscchoek. Johann het koning gekraai, met 20+ visse.

Einde November se kant, het 'n goeie geleentheid hom voorgedoen en ek het 'n pragtige stokkie aangeskaf, G. Loomis Trilogy 2wt, met 'n Ryobi magnesium katrol.

Terug by Smalblaar 5: Eerste gooi en dinge lyk maar stil, bygesê dat ek nie regtig geweet het wat om te verwag nie! Ons het so kort voor 07:00 begin hengel. 'n Paar vissies is gemis, uit pure onkunde, maar toe trek Renier die eerste forel in. Teen 11:00 was ons deur die beat en het ons besluit om weer die eerste poel (Murky Pool) aan te durf. Daar het ons beide 'n paar baars gevang en van kant gemaak.

Die 20ste Desember is ons weer SB5 toe en die keer het ek dit laat geld. 06:30 was ons reeds by die eerste poel en binne die eerste paar gooie het ek my eerste forel uitgetrek. 'n Paar gooie later en nog 'n mooier vis maak sy verskyning. Die res van die dag was stil, met Renier wat die enigste ander visse gevang het.

Die 28ste Desember het ek vir Chris SB5 toe geneem. Ek offer hom die eerste gooi, mar hy weier. Wel, ek sê hom toe ek sal hom wys hoe dit werk en wraggies,my eerste gooi van die dag lewer 'n vis op. Chris se 2de of 3de gooi het hy ook 'n byt gehad, maar te laat vasgekap. Ons is redelik vinnig deur die res van die water. Die tyd van die jaar is die watervalk laag en dit word vinnig warm, so die vis lê laag en stel nie veel belang nie.

Die gogga het my behoorlik gebyt en so het ek vir Tjomma ook ingepraat om vir hom 'n stok aan te skaf. Sy eerste les was die 7de Januarie 2007 by Dewdale in Fransschoek.

Ons het so 07:30 daar opgedaag en alles was nog stil, met niemand in sig nie. 'n Kort les in casting and retrieving en ons is water toe. Die eerste uur het niks opgelewer nie, maar genoeg tyd gegee vir Tjomma om sy tegniek te verfyn. Kort duskant 09:00 trek ek my eerste vis uit, 'n Atlantic Salmon...ongelooflik! 'n Paar minute later en ek trek 'n monster 2kg Goue forel uit. Tjomma het intussen 'n byt gehad en die adrenalien het behoorlik begin pomp. 'n Paar minute later trek hy sy eerste forel uit, wel in die rug gehaak, maar 'n vis, is 'n vis. Kort daarna het hy nog een ingetrek en ek self het ook 2 ingetrek.

Die 10de was ons gou terug by Dewdale, maar die elemente het sterk teen ons getel. Hitte en wind werk nie lekker saam nie.

Soos ek sê, die gogga het my gebyt...big time!

Wednesday, January 17, 2007

Klein Nina


Nina raak ouliker by die dag en glimlag al te mooi.


Vandag is sy 11 weke oud.

Friday, January 12, 2007

Terug op die lug

Na 'n heerlike 3 weke vakansie is ek weer terug by die werk. Baie om te rapporteer oor die vakansietyd, maar ek sal dit op 'n later stadium doen.

Tot later

R

Thursday, December 14, 2006

Geseënde Feestyd

Mag hierdie feestyd vir julle elkeen spesiaal wees.

Groete tot 2007!

Friday, December 01, 2006

1 maand oud



Nina is vandag 1 maand oud. Die tyd vlieg ongelooflik vinnig en poppie word by die dag ouliker.