Rendier se kraal

Monday, June 26, 2006

Stille waters...


Dis Saterdagoggend. Die lug is blou met 'n byt, net soos daar op die eiland. Vanmiddag 15:00 draf die Bokke op Nuweland uit om die Franse aan te pak. Die wroeging is sterk; rugby - met die kans op teleurstelling, of hengel - odds is dieselfde.

Skuins na 12:00 pak ons af langs die hangbrug in die mooiste Stellenbosch. Die dorp is still. Die water kabbel opgewonde oor die klippe. Dis skoon; ons gaan in.

Ons bestaan uit Rendier, Renier "die enigste" Karg en Billie "the Kid" de Jongh. Billie is 'n hengelaar van formaat. Dis nie aldag dat jy 'n man ontmoet wat kan hengel en mooi fotos neem nie. "The Kid" knoop al sy eie vlieë en het al 'n kompetisie of twee gewen. Hy heet daar uit die Noorde; Phalaborwa trajek.

Die eerste treë in die Eersterivier is koud - koud en versigtig, want die klippe is glad! Al soekend sukkel ons die rivier op. By elke poel en stroomversnelling mik ons 'n paar vlieë die stroom op. Die strike indicator sak so dan en wan weg, maar meestal as gevolg van die stroomversnellings.

Die koue voel ek nie meer nie, net die afwagting van die forrel wat onder 'n tak of agter 'n klip lê en wag vir 'n happie.

Na 3 ure van waterslaan en 'n menigte bome, kom ons by die laaste poel. Laaste poel, want my voete is dood en ons het 'n 15:00 afspraak by Jonkershoek. "The Kid" skiet na 'n stroomversnelling. Die vliegie dryf af teen die klippe en deur 'n gladde poel, onder 'n tak deur. Die oranje indicator verdwyn skielik. Hy slaan vas, maar daar's niks. Weer skiet hy stroom-op, nog twee, of drie keer. Die nymph dryf weereens oor die versnelling, deur die poel onder die takke deur. Die indicator sak weg; hy strike en 'n woeste gespartel vind plaas. Hy hengel met ligte gerei en al is die vis klein, speel hy lekker. Die water raak stil en die klein reënboog forrel lê in sy hand. Vinnig word die hoek losgemaak en die forrel teruggeplaas in die water.

3 ure se swoeg vir 1 minuut van plesier - priceless.

Billie, dankie vir al die raad en knope. Renier, volgende keer vang ons hulle ook!

3 Comments:

At 11:36 PM, Blogger renklem said...

Gee hulle nie vir jou 'n gevriesde vissie om huis toe te vat soos hier by julle ou hengelplek op die eiland nie?

 
At 8:42 AM, Blogger Rendier said...

Was dit tog maar net so, dan kon ek iets wys vir al my moeite. Ek dink egter die probleem is dat my vlieë almal Engels is en nie die taal van die Eersterivier praat nie...verstaan jy!

 
At 6:30 PM, Blogger renklem said...

ek hoor, ek hoor.... doop hulle in 'n bietjie Tas om hule te laat aklimatiseer, miskien kom die Bos gevoel dan meer duidelik uit.

 

Post a Comment

<< Home