Rendier se kraal

Thursday, July 06, 2006

Oesterfees

Die afgelope naweek het die Oesterfees in Knysna afgeskop. Dit was my eerste ondervinding van die fees en eintlik het ek dit nie beleef nie. Ek is nie eintlik 'n mens wat hou van fanfare nie en die idee van georganiseerde chaos is nie vir my nie.

Donderdag het ons die pad Knysna toe aangepak met 'n paar pit stops langs die pad, ondermeer by Peregrine, net buite Grabouw, om 'n paar Mosbolle, appels en dies meer aan te skaf. Die weer was mooi en die pad was stil; 'n perfekte kombinasie. Die vakansie reuk het al van Riversdal in die lug gehang - die wat nie weet hoe dit ruik nie, ry gerus die stuk pad. Die fynbos maak jou los van die stad se rumoer.

Na 'n vinnige stop in George het ons in Knysna gearriveer. Die bagasie is afgelaai en ons is in dorp toe om vooraad aan te skaf. Die dorp was 'n miernes van aktiwiteit en na die inkopies is ons terug om die skippie vir 'n spin te vat. Die weer was ongelooflik; koel, maar lekker. Die aand is afgesluit met 'n Panarotti's Pizza special en 'n draught( as julle ooit daar eet, herinner tog vir Precilla of Precious dat 'n draught 'n bier is wat uit 'n kraan kom en hulle het dit wel!)

Vrydagoggend begroet ons met 'n grys kombers. Die straf van Knysna is op ons. Mooi weer is nie ons voorland nie. Na 'n heerlike mosbolletjie ontbyt, is ons die dorp in om te shop - Mev Rendier soek hard na iets, maar vind niks. Teen 11:00 lig die gryskombers en begroet die warmste winter-son ons. Ons jaag terug huistoe, want so 'n geleentheid moet aangegryp word. Die skippie word gelaai met al wat 'n lekker-ding is en ons vaar die hawe uit. By die Koppe is die water bietjie stamperig, so ons kies koers na die treinbrug. Neffens die brug gooi ons anker en maak reg vir 'n lekker middagete in die gloei van die son.


Ek en mev Rendier

Laatmiddag arriveer Slabber uit PE. Ons skiet gou vir 'n spin op die skip net soos die son ons groet. Die res van ons geselskap is nog duskant Albertinia, so ons besluit om gou iets te gaan eet by Sirocco's - dis nou nadat ek dit vir MTN Directory enquiries moes spel en nou nog wag vir die SMS. Die atmosfeer is great. Argentiniƫ speel teen Duitsland en daar is 'n goeie gees. Na 'n paar oesters, 'n kabejou'tjie met wasabi-mash(ek maak nou my eie ook) en 'n heerlike chocolate brownie, kies ons koers terug Quays toe. Die res van ons geselskap arriveer en na 'n groet en gekuier kies almal koers bed toe.

Saterdagoggend is Henk vroeg uit die vere. Die man ry immers die 42km bergfiets roete en met 'n baba in die kamer het hy nie veel slaap ingekry nie. Die res van ons verkeer gesellig, speel met Kara, gesels oor babas en swangerskap en verwyl sommer net tyd in die oggend son. Met Henk se terugkeer pak ons die skippie en skiet die water in vir 'n heerlike middagete. By Featherbeds gooi ons anker. Die lewe is 'n absolute fees. Al wat haastig is in die geweste is die gety. Magies vol, ogies toe. Kara is vas aan die slaap teen die tyd dat on weer in die Quays vasmeer.


Wilmien, Kara en Carike

Saterdagaand is afgesluit met 'n heerlike worsbraai - dankie Henk - en 'n paar bliklywe by die brug.


Slabber, Henk en Rendier

Sondagoggend vaar elkeen sy eie roete in. Die pad Kaap toe is rustig en sonder enige voorvalle.

Die naweek was hopelik die begin van vele. Die pad tussen die Kaap en PE is immers nie so ver nie.

6 Comments:

At 4:17 PM, Blogger PienkZuit said...

Wat is die skippie?

 
At 8:07 AM, Blogger Rendier said...

Skippie is 'n SeaRay 270 Sundeck. Lekker speelding op lagoon. Blogger se fotos werk nie so lekker nie, maar sal vandag weer probeer kiekies plaas

 
At 9:04 PM, Blogger renklem said...

Rendier, ek is erg jaloers op julle heerlike naweek. Netta lyk dan nog glad nie dik nie. wat gaan aan?

 
At 6:13 PM, Blogger Munds said...

Ek herken ook die baadjies - maar laas is hulle op die ski-veld gebruik!

 
At 7:55 AM, Blogger Rendier said...

Netta is effe sensitief oor die pensie, steek dit goed weg wanneer sy moet. Ek sal 'n paparazzi-foto binnekort plaas

 
At 1:35 PM, Blogger renklem said...

Netta, ek kan dink dat jy ook sommer stunning lyk met so 'n pensie. Geniet dit.

 

Post a Comment

<< Home