Rendier se kraal

Tuesday, September 12, 2006

Het hom...

Afgelope Saterdag het ek en Neef Renier die waters by Jonkershoek gaan aandurf. Kort na 08:00 het ons lyne die water begin slaan. Die damme was mooi vol en hier en daar het 'n forrel gespring.

Langsaam het ons van die onderste dam af boontoe beweeg. Soos my geluk dit wou hê het ek 'n paar takes gemis, maar dit was net genoeg motivering om aan te hou. By die derde dam kon ons bietjie sight fish, basies kan jy die vis sien en jy mik dus nie in die donkertes in nie. Dit was die ongelooflikste ervaring om te sien hoe 'n forrel my vliegie jaag, net om sy neus weg te draai op die laaste.

Vrydagaand het ek uit pure antisipasie 'n vlieg aanmekaar geflans. My poging was nie uiters goed nie, want my gereedskap was skort. Met my vliegie (half) geknoop, het ek met 'n geruste hart gaan slaap.

Na die 20-ste "neusie verby" poging, besluit ek dis tyd om my eie handewerk op die proef te stel. My wafferse semi-dry vliegie is aan die lyn geknoop en die dieptes ingestuur. Na die derde cast trek die lyn styf. Ek het hom...nie mooi gehaak nie; hy's weg. Nog 'n paar gooie en ek slaan weer vas. Die keer kom hy nie weg nie. Na 'n kort spartel is my forrel aan't wal. Dis nou nie my grootste of my mooiste forrel ooit nie, maar die een het ek op my eie vlieg gevang. Nodeloos om te sê het die vliegie nie lank gehou nie. Na nog so 'n paar gooie en 'n goeie vaslaan, kom my vliegie ongeveerd die water uit. Sy dae is getel, maar sy patroon sal ek onthou.

Neef Renier het al lekker moedeloos geraak van water slaan, maar na 'n goeie taktiese vlieg verandering, het die man self met twee forrele gepronk.

Kort na 11:00 het ons halt geroep aan die dag se hengel. Neef is Garies toe en ek het gaan kyk of die Bokke nog kan ball speel, en hulle kon!

0 Comments:

Post a Comment

<< Home