Rendier se kraal

Monday, September 04, 2006

NUFC

Saterdag, 19 Augustus, het ek die voorreg gehad om saam met my Boet die eerste wedstryd van die seisoen op St James' Park te beleef. Jip, beleef, want mens kyk nie sokker nie. Die gees is onbeskryflik...wel Nuweland was Vrydagaand amper so, maar dis net iets uit 'n ander wêreld.

Mev Rendier het die trippie vir my gegee as my verjaarsdag geskenk.

Die logistiek was 'n nagmerrie, want die kaartjies word eers 2 weke voor die wedstryd uitgereik en treinkaartjies is goedkoper as mens dit vooruit koop. Mev Rendier en "Hotklou" Carroll het die treinkaartjies behartig en ek het stip na die skerm gestaar tot die oomblik wat die kaartjies beskikbaar was. Vinnig en pynloos is die kaartjies bespreek en toe is dit die wag...

Die treinrit Newcastle toe neem 3 1/2 uur. Daar is nie veel om te sien nie, maar dit is mooi groen en mens sien landmerke soos York se katedraal en Durham se kasteel en katedraal (geleë op die twee koppies in die dorp). Ons het 07:00 ons tog aangepak uit Wimbledon om betyds op Kings Cross te wees. Die 08:30 trein het ons vinnig in Newcastle aangebring, met 3 ure om te verspeel voor die wedstryd. Na 'n vinnige besoek aan die NUFC winkel en 'n cider in die bekende Shearer's Bar, het die tyd aangebreek. Tipies Engelse weer het dit liggies begin reën.




Die stadion is ongelooflik! Die atmosfeer tasbaar. Ons stap in en neem 'n vinnige kiekie van die gronde en soek voorts ons sitplekke. BB1 & BB2; dis voor (geen AA ry), links in die hoek van die hoofpawiljoen. Ongelooflik, reg teen die veld! 'n Sagte reën sak nog uit oor Newcastle, maar gelukkig beskerm die dak ons...dis nou totdat die wind begin waai. 'n Paar minute in die wedstryd in, sak die reën in emmers neer. Ons is nat, maar dis lekker! Scott Parker skiet 'n doel en kom draf tot reg voor ons om dit te vier. Dit was nou vir jou 'n MasterCard oomblik. Wigan se doel word in die tweede helfte ook voor ons gevier, maar gelukkig skiet Ameobi die wendoel. Na afloop van die wedstryd drentel ons weer terug na die stasie. Dis 'n 2 ure wag vir ons trein, wat met 'n halfuur vertraag is. Net na 23:00 arriveer ons op Kings Cross en saam met 'n groep ondersteuners pak ons die pad SW toe aan. Kort na middernag is ek terug in Hampton Wick. Wat 'n onvergeetlike dag.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home