Rendier se kraal

Tuesday, April 25, 2006

Stilte in die Paradys


Hoekom is dit, dat elke stukkie Paradys deur een of ander mal moer wat Paradys toe wil gaan, opgeblaas word?

Dahab...'n stukkie Hemel, veral onder die water. Die mense daar is eenvoudig, selfs arm. Elkeen probeer 'n bestaan voer deur dieselfde goed te verkoop. ek en Mev Rendier het gespot met die Strip en dit die "Guantlet" genoem, want jy kan nie een treë gee sonder dat jy of gegroet, of genooi word vir aandete, of genooi word om na hulle items te kom kyk nie. Dit was vreemd, selfs irriterend, maar tog was die mense altyd vriendelik en het hulle in gebroke Engels, Duits, Frans, jou laat welkom voel in hierdie stukkie Paradys. Hulle plek, wat oorstroom word met toeriste. Eenvoudige toeriste wat 'n goedkoop vakansie-plek kies. Iewers uit die gehar-war van die stad en sy mense. Hulle het vroeg reeds besef watter bydrae toeriste tot hulle bestaan maak.

Vanoggend lees ek die dat daar 3 bom aanvalle in Dahab was en my hart word koud. Daai dogtertjie wat my die "Greedy man" gedoop het kon daar geloop het, sy is dalk een van die talle wat dood of beseer is. Of die vriendelike man wat ons uitstappie Kairo toe gereël het. Nie eens te praat van ons duik gidse nie!

Wie kan in vandag se tyd nog glo dat jy beloon gaan word vir sulke dade? Is jy stupid genoeg om te glo dat jy 70 maagde in die hemel gaan kry? Dit maak my moedeloos.

Terloops, vandag is Yom Hashoah: Holocaust Remembrance Day

Tuesday, April 18, 2006

Petit Mouton


Ons klein skapie

Na 'n dolle gejaag, grotendeels my skuld, het ons Donderdag (13 April 2006), ons kleinding vir die eerste keer ontmoet. Ek dink nie woorde kan die gevoel omskryf nie; antisipasie, trots, "awe"!


Ek sê dankie vir tegnologie, want nou hoef ons nie 9 maande te wag om ons kleinding te sien nie. Dis ongelooflik! So 'n klein wesentjie, 3.3cm lank, verskyn op die skerm en dan is hy/sy nog omgekrap ook as jy te hard druk! Dis absoluut fantasties om te sien en toe waai die kleinding boonop vir ons.

Mag elkeen die wonder van 'n nuwe lewe ervaar. Dis absoluut fantasties en 'n ongelooflike voorreg.

Thursday, April 06, 2006

Die stilte



Vriende, die eerste Kaapse donderstorm het ons getref. Blykbaar was dit laasjaar om en by dieselfde tyd ook hier. Dis die vreemdste gevoel, as die son nog oor Blouberg loer en die donker wolke oor Tygerberg vergader.

My pad huistoe het 'n draai in Milnerton ingesluit, waar die druppels een vir een hulle pad aarde toe gekies het. As jy vinnig genoeg was, kon jy hulle sy-stap, so groot was hulle. Op die pad terug Tygerberg se kant toe, het dit donker geraak; donker en warm. Daar was iets vreemds in die lug. Op teen Jip De Jager, het dit mistig geword, maar nie blou-grys mis nie, oranje. Dit voel soos iets uit 'n sci-fi movie. Die onheilspellende oranje mis en die gekraak van die weerlig oor die radio. Ek kon egter nie die weerligstrale sien nie, net 'n kraak en dan 'n donderslag. Die weerlig val meer gereeld en harder tot op die aarde. Die reën sak neer in 'n stormvloed en toe, die stilte.