Rendier se kraal

Friday, September 29, 2006

Waar in die wêreld...

Ek luister Kfm...voel soos 'n beleidenis, maar dis die beste manier om die verkeer te navigeer in die oggend. Die afgelope paar weke is die interessantste speletjie aan die gang; Find the Fugitive. Dit was sekerlik een vna die beste kompetisies ooit, want sien, dit het vreemdelinge bymekaargebring. Verbeel jou 'n wild vreemdeling kom stop langs jou en vra: "Are you the fugitive?" a.k.a "Is you de fewjetif?"

Ek soek nou ook 'n fugitive - Rennie Klem. Weet enigeen wat van ons gunsteling Medusa geword het? Het die nuwe skool haar ingesluk?

Tuesday, September 12, 2006

Het hom...

Afgelope Saterdag het ek en Neef Renier die waters by Jonkershoek gaan aandurf. Kort na 08:00 het ons lyne die water begin slaan. Die damme was mooi vol en hier en daar het 'n forrel gespring.

Langsaam het ons van die onderste dam af boontoe beweeg. Soos my geluk dit wou hê het ek 'n paar takes gemis, maar dit was net genoeg motivering om aan te hou. By die derde dam kon ons bietjie sight fish, basies kan jy die vis sien en jy mik dus nie in die donkertes in nie. Dit was die ongelooflikste ervaring om te sien hoe 'n forrel my vliegie jaag, net om sy neus weg te draai op die laaste.

Vrydagaand het ek uit pure antisipasie 'n vlieg aanmekaar geflans. My poging was nie uiters goed nie, want my gereedskap was skort. Met my vliegie (half) geknoop, het ek met 'n geruste hart gaan slaap.

Na die 20-ste "neusie verby" poging, besluit ek dis tyd om my eie handewerk op die proef te stel. My wafferse semi-dry vliegie is aan die lyn geknoop en die dieptes ingestuur. Na die derde cast trek die lyn styf. Ek het hom...nie mooi gehaak nie; hy's weg. Nog 'n paar gooie en ek slaan weer vas. Die keer kom hy nie weg nie. Na 'n kort spartel is my forrel aan't wal. Dis nou nie my grootste of my mooiste forrel ooit nie, maar die een het ek op my eie vlieg gevang. Nodeloos om te sê het die vliegie nie lank gehou nie. Na nog so 'n paar gooie en 'n goeie vaslaan, kom my vliegie ongeveerd die water uit. Sy dae is getel, maar sy patroon sal ek onthou.

Neef Renier het al lekker moedeloos geraak van water slaan, maar na 'n goeie taktiese vlieg verandering, het die man self met twee forrele gepronk.

Kort na 11:00 het ons halt geroep aan die dag se hengel. Neef is Garies toe en ek het gaan kyk of die Bokke nog kan ball speel, en hulle kon!

Friday, September 08, 2006

House of Spice

Vir al julle Londenaars wil ek die volgende eetplek aanbeveel: The House of Spice, 507 Kingston Road, Raynes Park, SW20 8SF.

Die plek was soos 'n tweede kombuis. Ons bus(163) het elke dag daar verby gery en ons het letterlik net 6 huise in die straat af gewoon. So as die hongerpyne van 'n lang dag se werk jou druk en jy net nie kans sien vir 'n ready meal of kosmaak nie, is dit die plek om in jou straat te hê.



Doen jouself 'n guns en gaan maak daar 'n draai. Pompedoms vir voorgereg is 'n moet. As jy lus is vir 'n soet smaak sensasie, bestel, nr.14 of 16 (die name ontgaan my nou) en vir iets anders as die normale brand sensasie van 'n Madras (wat nie op die menu is nie maar wel bestel kan word) of 'n Vindaloo, kan jy ook settle vir 'n Murgh Kadai. Dit is 'n geurige dis met 'n growwe tekstuur. Wanneer jy die menu foos bestel het, kan jy vir die chef vra om vir jou iets spesiaals te maak en glo my, die ongelooflikste kos kom dan uit die kombuis uit. Na ete bedien hulle lemoenskywe en warm lappies om die blink van jou gesig af te was - of die sweet as jy 'n Vindaloo gehad het.

Moenie die nagereg vergeet nie. Lekker Gulab Jamun vir die soet tand.

Wanneer hulle jou rekening bring, word dit vergesel met 'n Tia Maria en Room shooter en 'n After Eight sjokolade.

'n Ete vir 2, 2 groot Cobras ingesluit, sal jou so GBP30 uit die sak jaag, selfs minder.

Monday, September 04, 2006

Self Service Checkout



Tydens ons onlangse besoek aan die Moddereiland, het ons op ide nuwigheid afgekom. By sekere winkels kan jy self jou inkopies skandeer, pak, betaal en uitstap. Verbeel jou hulle probeer dit in SA! Ek reken stap 1 en 3 sou gesneuwel het!

NUFC

Saterdag, 19 Augustus, het ek die voorreg gehad om saam met my Boet die eerste wedstryd van die seisoen op St James' Park te beleef. Jip, beleef, want mens kyk nie sokker nie. Die gees is onbeskryflik...wel Nuweland was Vrydagaand amper so, maar dis net iets uit 'n ander wêreld.

Mev Rendier het die trippie vir my gegee as my verjaarsdag geskenk.

Die logistiek was 'n nagmerrie, want die kaartjies word eers 2 weke voor die wedstryd uitgereik en treinkaartjies is goedkoper as mens dit vooruit koop. Mev Rendier en "Hotklou" Carroll het die treinkaartjies behartig en ek het stip na die skerm gestaar tot die oomblik wat die kaartjies beskikbaar was. Vinnig en pynloos is die kaartjies bespreek en toe is dit die wag...

Die treinrit Newcastle toe neem 3 1/2 uur. Daar is nie veel om te sien nie, maar dit is mooi groen en mens sien landmerke soos York se katedraal en Durham se kasteel en katedraal (geleë op die twee koppies in die dorp). Ons het 07:00 ons tog aangepak uit Wimbledon om betyds op Kings Cross te wees. Die 08:30 trein het ons vinnig in Newcastle aangebring, met 3 ure om te verspeel voor die wedstryd. Na 'n vinnige besoek aan die NUFC winkel en 'n cider in die bekende Shearer's Bar, het die tyd aangebreek. Tipies Engelse weer het dit liggies begin reën.




Die stadion is ongelooflik! Die atmosfeer tasbaar. Ons stap in en neem 'n vinnige kiekie van die gronde en soek voorts ons sitplekke. BB1 & BB2; dis voor (geen AA ry), links in die hoek van die hoofpawiljoen. Ongelooflik, reg teen die veld! 'n Sagte reën sak nog uit oor Newcastle, maar gelukkig beskerm die dak ons...dis nou totdat die wind begin waai. 'n Paar minute in die wedstryd in, sak die reën in emmers neer. Ons is nat, maar dis lekker! Scott Parker skiet 'n doel en kom draf tot reg voor ons om dit te vier. Dit was nou vir jou 'n MasterCard oomblik. Wigan se doel word in die tweede helfte ook voor ons gevier, maar gelukkig skiet Ameobi die wendoel. Na afloop van die wedstryd drentel ons weer terug na die stasie. Dis 'n 2 ure wag vir ons trein, wat met 'n halfuur vertraag is. Net na 23:00 arriveer ons op Kings Cross en saam met 'n groep ondersteuners pak ons die pad SW toe aan. Kort na middernag is ek terug in Hampton Wick. Wat 'n onvergeetlike dag.